KWAZULU-NATAL. – ‘n Passasier het Saterdagmiddag gesterf toe ‘n motor ‘n boom in Lacefern End in Trenance Park getref het.
Reaction Unit South Africa sê die operasionele sentrum het verskeie oproepe vir hulp ontvang. Met aankoms op die toneel, omstreeks 13:40, is ‘n groen Opel Kadett met drie insittendes teen ‘n boom aangetref. Volgens die bestuurder het die remme van die motor teen ‘n steil afdraande gefaal en dit het teen die boom vasgery.
Die passasier wat agter gesit het, het gesterf, terwyl die bestuurder en die tweede passasier matige beserings opgedoen het.
Die beseerdes is deur paramedici van ‘n privaat ambulansdiens op die toneel gestabiliseer.



