NOORDWES. – Vier soldate wat deel van ‘n operasie teen onwettige mynery is, is Saterdagoggend na ‘n 24 uur skof oorlede in ‘n vraghouer aangetref. Hulle het vermoedelik aan koolstofmonoksiedvergiftiging gesterf.
Siphiwe Dlamini, woordvoerder vir die SANW, sê die soldate was deel van operasie Vala Umgodi en was by die dormante skag 3, in Orkney, aan diens. Dit is naby die ongebruikte Harry Oppenheimer-stadion wat as ‘n probleemarea vir onwettige mynery geïdentifiseer is.
Die soldate is met hulle vuurwapens en persoonlike besittings by hulle dood aangetref. Die plaaslike distriksgeneesheer het geen beserings aan die liggame gemerk nie. Verskeie rolspelers het die toneel ondersoek. Die soldate het ‘n vuur in die vraghouer teen die koue gemaak.
Die oorledenes se name sal bekendgemaak word wanneer hulle naasbestaandes van hulle sterfte ingelig is.
‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen. ‘n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die soldate se dood bepaal.






