SAHPRA kap terug aangaande konsepbeleid oor swart ekonomiese bemagtiging

Lees ook :

Solidariteit het die Suid-Afrikaanse Regulerende Owerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) gewaarsku dat hy regstappe sal instel indien dié raad nie van “streng voorgestelde rasvereistes” in sy voorgenome beleidsdokumente oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) afsien nie.  

Dié owerheid het teruggekap en sê dit is “teleurgesteld” met die wanvoorstelling. “Dit is ‘n verkeerde inligtingsveldtog,” dr. Boitumelo Semete, hoof uitvoerende beampte van SAHPRA, aan Nuusflits.

“Vou onder politieke druk” – Solidariteit

Volgens Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese netwerke, druis SAHPRA se SEB-beleid in teen alles wat internasionaal as beste sakepraktyk beskou kan word. “SAHPRA vou hiermee volkome onder politieke druk. In plaas daarvan om net seker te maak dat mediese produkte aan regulatoriese vereistes voldoen, buig Sahpra eerder voor raswette. ʼn Mens kan eintlik sê SAHPRA sien die land eerder siek as wit. Gemeet hieraan is SAHPRA bereid om mense ter wille van swart bemagtiging van medikasie te ontneem. Dit is tog nie in die belang van die gemeenskappe wat hy moet dien om vereistes daar te stel waaraan kleiner sakeondernemings in die bedryf nie kán voldoen nie. Buitelandse firmas word óók op dié manier uitgesluit,” sê Marx.

Marx sê verder daar is oral ter wêreld oproepe vir farmaseutiese maatskappye om juis so gereguleer te word dat hulle medikasie vinniger en goedkoper na die mark kan bring.  Deur hierdie beleid in te stel, word maatskappye se toegang tot die mark deur nóg hindernisse versper wat hulle keer om noodsaaklike geneesmiddels aan mense te kan lewer.

“Doelbewuste valshede” versprei

Semete sê die verkeerde inligtingsveldtog is gegrond op “doelbewuste valshede” wat nie binne SAHPRA se voorgestelede beleid bestaan nie. “Dit is rasgelaaide wanvoorstellings waaroor die konsep hom duidelik uitgespreek het. SAHPRA-bestuur en belanghebbende partye het dit aangespreek as deel van die konsultasieproses van die konsepbeleid. Dit is in Junie vanjaar gehou, bygewoon deur meer as 300 afgevaardigtes van die gesondheidsproduktebedryf in Suid-Afrika.” ‘n Opname van dié sessie is hier beskikbaar.

SAHPRA sê die volgende aannames is vals:

  1. SAHPRA se kon konsep B-BBEE-beleid stel “rasvereistes” vir die registrasie van medisyne.” Semete sê die konsepbeleid het geen kwotas vir die eienaarskap van farmaseutiese besighede op grond van ras of geslag vasgestel nie. “Dit is nie binne SAHPRA se mandaat nie en bestaan nie in enige wetgewende raamwerke wat SAHPRA se werk beheer en/of dié waarvoor SAHPRA verantwoordelik is om te implementeer nie. As sodanig word hierdie leuen afgewys met die minagting wat dit verdien, aangesien dit geen basis in feite het nie en nêrens in SAHPRA-dokumente voorkom nie.
  2. SAHPRA sal die B-BBEE gebruik om medisyneregistrasie-aansoeke te assesseer en sodoende toegang tot medisyne te beïnvloed.” Semete sê dit is ‘n doelbewuste wanvoorstelling van SAHPRA se konsep B-BBEE-beleid. “Die konsepbeleid dui duidelik en prominent aan dat dit nie die geval sal wees nie en dat SAHPRA se registrasieprosesse vir gesondheidsprodukte uitsluitlik op die veiligheid, kwaliteit, doeltreffendheid en werkverrigting van die gesondheidsprodukte sal staatmaak. Enige insinuasies tot die teendeel bestaan nie tans in die polis of in SAHPRA se toekomsplanne nie.”
  3. “Die konsep B-BBEE-beleid is in lyn met die Nasionale Gesondheidsversekering en poog om sekere persone uit te sluit van staatsverkryging.” Semete sê hierdie “wilde sameswering” het geen basis in die werklikheid nie en is ‘n aanduiding van ‘n ooraktiewe maar kwaadwillige verbeelding. “Daar is nêrens in die voorgestelde beleid verband met die NGV nie, trouens die beleid stel dit duidelik dat dit nie met enige voorkeurbeleidsraamwerke gemoeid is nie. Dit is nie in SAHPRA se omvang van verantwoordelikheid nie. Die konsepbeleid poog om te verseker dat die farmaseutiese industrie beweeg na die ontwikkeling van sektorkodes en/of kriteria soortgelyk aan wat suksesvol in verskeie ander sektore van die ekonomie geïmplementeer is, insluitend landbou, mynbou, finansies, toerisme en verdediging, onder andere. Dit is in ooreenstemming met die vereistes van die B-BSEB-wet en het hoegenaamd geen verband met enige veronderstelde sameswerings nie.”
  4. “Die beleid sal deelname aan die farmaseutiese industrie deur KMO’s weier, aangesien hulle moontlik nie B-BBEE-sertifikate kan verkry nie.” Semete sê B-BBEE-voldoeningsbeëdigde verklarings deur klein besighede sal aanvaarbaar wees in die plek van B-BBEE-sertifikate; en die B-BSEB-vlak van ‘n besigheid het geen effek in die medisyneregistrasieproses nie. Dit sal die geval bly selfs sodra die beleid geïmplementeer is.

Die beleid poog om deelname deur voorheen gemarginaliseerde persone te verhoog en het geen voorneme om deelname deur enige persone op grond van ras of geslag te verminder of uit te sluit nie. SAHPRA is op rekord wat dit aandui en dit word ook duidelik in die beleid gestipuleer.

Sien Solidariteit se skrywe aan SAHPRA aangeheg.

SAHPRA het op 23 Junie 2024 op sy webtuiste belanghebbendes gevra om kommentaar te lewer oor die voorgestelde nuwe wet.

Madimetja Mashishi, woordvoerder vir SAHPRA, sê aan Nuusflits die owerheid nooi alle belanghebbendes en belangstellendes, insluitend Solidariteit, uit om die konsepbeleid te lees en dan gemotiveerde kommentaar teen 9 September, 2024, in te dien. “Die bewering wat gemaak word dat die konsep BBSEB-beleid ‘rassevereistes’ het, is vals en SAHPRA wil dit afwys met die minagting wat dit verdien.”

Hier is die volledige konsepbeleid:

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief