LIMPOPO. – ‘n Toyota Prado ter waarde van R900 000 is Donderdag onderweg na Zimbabwe onderskep en ‘n verdagte (32) in hegtenis geneem.
Kol. Malesela Ledwaba sê die verdagte is met die voertuig, wat volgens rapportering Maandag in Villieria-polisiëringsarea in Pretoria gesteel is, voorgekeer nadat ‘n wenk ontvang is. Volgens die wenk was die voertuig onderweg om uit die land deur die Beitbrug-grenspos na Zimbabwe gesmokkel te word.
Die teen-smokkel-eenheid het die voertuig volgens beskrywing op die R37-pad onderweg van Lebowakgomo na Polokwane opgemerk. Die verdagte, ‘n SA-burger, kon nie dokumente vir die voertuig voorsien nie en is vir die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig in hegtenis geneem.
Hy sal Maandag in die Thabamoopo-landdroshof voorkom.
Die ondersoek duur voort.





