Komende naweek die 18de Augustus merk weer ‘n groot mylpaal vir Suid-Afrikaanse MMA wanneer Dricus du Plessis sy middelgewigtitel vir die eerste keer verdedig teen sy bitter mededinger Israel Adesanya in Perth, Australië. Die hoofkaart begin om 04:00 Sondagoggend op SuperSport, met die hoofgeveg wat teen ongeveer 06:00 sal afskop.
KYK: Dricus du Plessis se perskonferensie voor geveg teen Israel Adesanya
Hierdie twee hou nie van mekaar nie, en die dispuut is al jare in wording vandat Du Plessis gesê het dat hy die eerste WARE Afrika-kampioen in die UFC gaan word. Adesanya, gebore in Nigerië, voel dat dit ‘n aanval op sy erfenis is, en wil hom daarvoor straf.
Dricus se gevegstyl, waarmee hy ongelooflike druk op sy opponente plaas, is eintlik ‘n baie moeilike styl vir Israel, siende dat hy op soortgelyke manier teen Sean Strickland in sy laaste geveg verloor het. Maar ons moenie vergeet dat hy ook ‘n meester counterpuncher is nie, en dat as Dricus nie versigtig is nie, hy in Israel se lokvalle kan inloop soos Alex Pereira oorgekom het in hul tweede geveg.
Dricus glo dat Izzy nie meer die vuur en die wil het om weer kampioen te word nie, en dat hy sodoende die oorhand gaan hê. Volgens wat ek sien en hoor, veral in die UFC 305 Countdown-program op YouTube, lyk dit nie asof dit die geval is nie. Israel Adesanya is ‘n baie spesiale karakter wat leef asof hy deel van ‘n storieboek is, en glo hy het nog ‘n lang avontuur in die UFC voordat hy klaar is. Dit, gepaard met ‘n lekker lang rustyd weg van die sport, het hom hersteltyd gegee en hermotiveer om weer ‘n ster in die UFC te word.
Alhoewel Dricus du Plessis korter in lengte is en ‘n merkwaardige korter armlengte het, is hy definitief die grootste van die twee op ‘n fisiese vlak. Hy is kliphard, sterk soos ‘n bul en het ‘n meer afgeronde vaardigheid wat aanvalle betref, omdat hy baie beter op die grond veg as sy teenstaander. Voeg daarby dat hy ‘n goeie ken het om houe te absorbeer, en jy besef dat Izzy sy werk uitgeknip het vir hulle langverwagte kragmeting.
Vreemd genoeg is Israel Adesanya tans die betting favourite volgens die wedders, maar hulle weet nie wat ons weet nie!
Wie dink jy gaan die naweek wen, en dink jy die geveg gaan die volle aantal rondtes duur, of eindig dit binne die vyf?





