KRUGERWILDTUIN. – Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het gereageer op ‘n voorval wat Vrydag in die Krugerwildtuin plaasgevind het, waartydens ‘n bestuurder ‘n leeuwyfie gestamp het.
In ‘n video wat op sosiale media versprei is, kan gesien word hoe voertuie vir die leeus wag om uit die pad te beweeg. ‘n Ongeduldige motoris in ‘n Toyota Land Cruiser het egter tussen die voertuie deurbeweeg en in die proses ‘n leeuwyfie getref, skynbaar in ‘n poging om hul van die pad af te dwing.
‘n Woordvoerder van SANparke het die voorval bevestig en ook dat die betrokke motoris beboet is.
Die bestuurder het die leeu liggies getref, en alhoewel die leeuwyfie nie beseer is nie, is die ongeluk strydig met die park se reëls oor wildbesigtiging. Die voorval het op die H1-4 tussen Satara en die Olifantskamp plaasgevind.
Natuurliefhebbers het die insident op sosiale media veroordeel en onder andere gevra dat ‘n streng boete opgelê word





