MPUMALANGA. – Die vrou (22) wat op 20 Augustus aan die brand gesteek is, het Maandag gesterf.
Haar kêrel, Innocent Sthembiso “Spoto” Maseko (34), het volgens kol. Donald Mdhluli Maandag vir die tweede keer op aanklag van poging tot moord in die Carolina-landdroshof verskyn. Die saak is vir ‘n formele borgaansoek tot 4 September uitgestel.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Innocent Sthembiso “Spoto” Maseko (34) het vandag op aanklag van poging tot moord in die Carolina-landdroshof verskyn, terwyl sy meisie vir haar lewe in ‘n hospitaal veg.
Kol. Donald Mdhluli sê die saak is tot 26 Augustus vir regsverteenwoordiging en ‘n formele borgaansoek uitgestel. Maseko bly in aanhouding. Hy het na bewering Dinsdagoggend omstreeks 03:00 sy meisie (22) aan die brand gesteek. Die verdagte het glo vlambare vloeistof oor haar uitgegooi, maar haar bure het met haar hulpkrete tot haar redding gekom. Hulle het die slagoffer in vlamme gehul aangetref terwyl die verdagte glo besig was om steeds vloeistof oor haar uit te gooi. Hy het glo gevlug toe hy die bure opmerk. Die bure het die vlamme geblus en die slagoffer na ‘n hospitaal geneem.
Die polisie is ontbied en het die verdagte binne enkele ure opgespoor en in hegtenis geneem.
Maj.genl. (dr.) Zeph MKhwanazi het die voorval van huishoudelike geweld sterk veroordeel.





