Nuusflits het voorheen soos volg berig.
GAUTENG. – Cuan Karelse (21), van Standerton in Mpumalanga, het vroeër vandag vlugtig op aanklagte in die Pretoria-landdroshof verskyn. Reneé Lea (57) is dood in Moreletapark, in Pretoria, in haar motorvoertuig se kattebak gekry.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Karelse het op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die hof verskyn.
Na bewering het Karelse Saterdag in Lea se huis ingegaan, terwyl sy uit was. By haar terugkeer het Karelse haar glo vasgebind, haar van haar besittings beroof, in ‘n mat toegedraai en in die kattebak van haar motorvoertuig gelaai. Hy het daarna met haar na Pretoria gery.
Mahanjana sê Lea se dogter kon haar nie per telefoon in die hande kry nie en het die opsporingsmaatskappy gevra om haar ma se voertuig te soek. Dit is by ‘n vulstasie in Moreletapark in Pretoria gevind, met die verdagte in die winkel. Petroljoggies het die verdagte as die bestuurder van die voertuig geïdentifiseer.
“Die opsporingsmaatskappy se personeel het die oorledene se liggaam ontdek toe hulle die kattebak van die voertuig oopmaak. Daar was kabels om haar nek en haar mond was met kleeflint bedek. Die polisie is ontbied en die beskuldigde is in hegtenis geneem en aangehou.”
Die hofsaak is ná Karelse se verskyning vir ‘n formele borgaansoek en regsverteenwoordiging tot 2 September uitgestel.
“Die staat beoog om borgtog in die saak teë te staan.”





