KWAZULU-NATAL. – Twee persone is vanmiddag beseer, van wie een kritiek, nadat ‘n bakkie omstreeks 15:30 in ‘n kitskosrestaurant in Raj Mahalstraat in Merebank ingeploeg het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die diens het verskeie oproepe vir mediese hulp ontvang, aangesien beseerdes onder die bakkie, wat die ongeluk gemaak het, vasgepen is. Gevorderde lewensondersteunende paramedici het hulle na die toneel gehaas waar chaos hulle begroet het.
Twee persone is tydens die insident beseer, maar ‘n vrou, vermoedelik in haar 30’s, wat onder die voertuig vasgepen was, het kritieke beserings opgedoen. Sy is op die toneel gestabiliseer en na die Ahmed Al Khadi-privaat hospitaal vir verdere dringende mediese aandag gehaas.
Jamieson sê ‘n man wat matige beserings opgedoen het, is met ‘n ambulans na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
“In hierdie stadium is die gebeure wat tot die ongeluk gelei het onbekend, maar die SAPD was op die toneel en sal verder ondersoek instel.”





