Tumi Sole het op X vir brig. Athlenda Mathe, die nasionale polisiewoordvoerder van die polisie, gesê: “That monster needs to be in jail by today!”
Dit volg op ‘n sosialemediaplasing van ‘n aanrandingslagoffer, met foto’s, wat glo deur haar man aangerand is.
Brig. Athlenda Mathe het geantwoord op die sosialemediaplasing waarin Sole oor die verdagte sê: “All his details are on the thread.”
Mathe sê die polisie het drie sake, wat op die betrokke slagoffer en verdagte betrekking het, op rekord. ‘n Saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer (huishoudelike geweld) is op 29 November deur die slagoffer teen die verdagte gemaak. Die verdagte is ‘n dag later gearresteer. Na ‘n konsultasie tussen die senior staatsaanklaer en die slagoffer is suksesvolle mediasie bereik. Die saak teen die verdagte is teruggetrek.
‘n Aanrandingsaak (huishoudelike geweld) is weer deur die slagoffer teen die verdagte oopgemaak. Die slagoffer het weer met die aanklaer gekonsulteer en daar is besluit om die saak terug te trek. Die slagoffer het volgens Mathe dienooreenkomstig ‘n terugtrekverklaring ingedien. Daar is op 29 Januarie beslis om nie met vervolging in die saak voort te gaan nie (nolle prosequi.)
‘n Verkragtingsaak is op 12 Mei deur die slagoffer teen die verdagte oopgemaak. Die verdagte is op 16 Mei gearresteer en hy het in die Kimberley-landdroshof verskyn. Hy is op 27 Mei borg toegestaan en is vrygelaat. Die slagoffer en haar kinders is met die vrylating by ‘n plek van veiligheid ingeboek, maar die slagoffer het volgens Mathe verkies om haarself uit te boek. Hierdie betrokke saak is vir besluitneming van die staatsaanklaer tot 20 September uitgestel.






