NOORD-KAAP. – ‘n Pa (29) van Wrenchville is vir die aanranding van sy baba (1 jaar oud ten tyde van die voorval) tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort.
Lt.kol. Sergio Kock sê die baba het op 20 Oktober 2022, omstreeks 17:30, in Promised Land, in Wrenchville, begin huil terwyl die pa en ma ‘n woordewisseling gehad het. Die pa het die baba daarop met ‘n nat lap in die gesig begin slaan en die kind ook agter die nek geknyp. Hy het die baba van die ma af gegryp, waarna ‘n struweling ontstaan en die baba na die ma teruggegooi is. Sy het die kind hospitaal toe geneem en ‘n saak by die polisie oopgemaak.
Kock sê die pa is drie dae later gearresteer en is deur die Kuruman-streekshof op aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind, waarna hy op 1 Oktober gevonnis is.
Speur.kapt. Chatharina Nel is vir die suksesvolle afhandeling van die saak geprys.





