WES-KAAP. – ‘n Vrou (20) is Donderdag ontvoer toe sy van ‘n restaurant in Pleinstraat, Stellenbosch na haar huis gestap het. Twee verdagtes, buitelandse burgers, onderskeidelik 24 en 25 jaar oud, is in die George-omgewing in hegtenis geneem.
Kapt. Frederick van Wyk sê die slagoffer se huis is binne loopafstand van die restaurant. ‘n Voertuig met twee insittendes het gestop en haar ontvoer. Die verdagtes het ‘n losprys van die familie geëis, wat dit dadelik betaal het. Die slagoffer is Vrydag losgelaat. Sy is dadelik vir mediese aandag geneem. Inligting is opgevolg en ‘n swart BMW is geïdentifiseer.
“Die nommerplaatherkenningstelsel is geaktiveer, en die voertuig is suksesvol in die George-omgewing opgespoor.”
Die polisie sê twee buitelanders wat in die motor was, is vir verdere ondersoek aangehou. ‘n Onbekende bedrag geld en die selfoon wat gebruik is, is in die motor gevind. Die verdagtes is aangekla en sal na verwagting Maandag op aanklagte van ontvoering en afpersing in die hof voorkom.





