GAUTENG. – Altesaam 47 leerlinge van Laerskool Rapelego in New Eersterust in Hammanskraal het Maandag weens vermoedelike voedselvergiftiging behandeling in verskeie hospitale ontvang.
Vier leerlinge is steeds in die hospitaal nadat 43 ontslaan is.
Motalatale Modiba van die Gautengse gesondheidsdepartement sê in ‘n verklaring die kinders is tussen 9 en 14 jaar oud. Die leerlinge wat in gr. 5 is, het glo sjokolade met ‘n vervaldatum van ‘n ander leerling gekoop. Nadat die sjokolade geeët is, het die leerlinge gastroïntestinale en sommige asemhalingprobleme ondervind.
Die leerlinge is in Jubilee-hospitaal, Odi-hospitaal, Tshwane-distrikshospitaal en Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal behandel. Slegs een van die vier wat tans nog gehospitaliseer is, is in ‘n privaat hospitaal opgeneem.






