Voormalige polisiehoë vir korrupsie gevonnis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

NOORD-KAAP. – Maj.genl. Thuto Gaogakwe Phefo (62), ‘n afgetrede advokaat van regsdienste in die provinsie, is tot agt jaar direkte tronkstraf deur die Kimberley-streekshof gevonnis.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, sê Phefo is oorspronklik tot 10 jaar gevonnis, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is. Phefo moet tydens die opskortingstydperk nie dieselfde misdaad pleeg nie. Hy is op 26 Augustus vir oortreding van die wet op die voorkoming en bekamping van korrupte aktiwiteite wat in Augustus 2017 teen hom gebring is, skuldig bevind.

Nuusflits het berig die afgetrede majoor-generaal is deur die Kimberley-streekhof skuldig bevind. Die klaagster het vir ‘n brigadierpos aansoek gedoen, waarvoor sy die kortlys gehaal het. Tydens assessering het Phefo die klaagster genader en vir haar ‘n dokument gegee en gesê dit is wat hy tydens die onderhoudvoering verwag. Die klaagster het gesien die dokument is ‘n gevallestudie. Sy het gesê Phefo het R70 000 vir die dokument gevra, waarvan sy vir hom R48 000 betaal het.

“‘n Navraag is op 2 Augustus 2017 geopen, wat tot die loods van ‘n operasie gelei het. Phefo is kort daarna, nadat hy die balans van R22 000 geëis en ontvang het, gearresteer. Hy is op borgtog van R4 000 vrygelaat en het tot sy skuldigbevinding 48 keer in die hof verskyn.”

Die klaagster is uit die polisie ontslaan. Phefo is tydens ‘n departementele saak vrygespreek, waarna hy op 21 Maart 2020 op vervroegde pensioen uit die polisie getree het.

Die kriminele saak is tot 18 Oktober vir vonnisoplegging uitgestel.

“Na skuldigbevinding is borg nie vir Phefo verleng nie en hy bly in aanhouding.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief