Wessel Lourens (15), ‘n gr. 9-leerling van Hoërskool Wonderboom in Wonderboom-Suid, in die Moot van Pretoria, het op 22 November gesterf.
Die skool het Vrydagmiddag die aankondiging van die seun se afsterwe op sosiale media aangekondig.
“Ons wil hiermee ons diepste leedwese met sy ouers, ander geliefdes, onderwysers en klasmaats deel.
Wessel was bekend vir sy sagmoedige gees, warm glimlag en die kosbare vriendskappe wat hy in ons skoolgemeenskap gebou het. Hy was ook ‘n kranige lid van die skool se fietsryspan en sal onthou word as ’n innemende en saggeaarde seun. Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat sy ouers, ons skool se berader, me. Mariëtte Fourie, en die psigiater, wat ’n pad saam met hom gestap het, gegee het. Dit gaan vir ons moeilik wees om afskeid te neem van Wessel. Rus in vrede ou maat. Ons gaan jou mis.
Die Hoërskool Wonderboom wil hiermee ook alle leerders, wie se ouers versoek dat die skool traumaberading beskikbaar stel, nooi om met die skool kontak te maak sodat die nodige reëlings getref kan word.”
Intussen het nog ‘n skrywe van die skoolhoof, mnr. Lezar, op sosiale media verskyn. Lezar sê die skool het Wessel ondersteun en ‘n gekwalifiseerde berader het sedert die begin van die jaar met hom gewerk. Die hoof lig pertinent die aantal dae wat Wessel per kwartaal afwesig was en hoe die dae na die einde van die jaar verminder het, uit. Hy sê ook daar was ‘n verbetering van 20% in Wessel se gemiddeld in die laaste eksamen. Volgens Lezar het niks daarop gedui dat Wessel nie by die skool wou wees nie en is hy hartseer oor diegene wat die situasie uitbuit. Hy noem ook pertinent oor die boeliebeleid wat by die skool in plek is.
Lezar voel eerder Wessel se ouers moet ondersteun word en daar moenie sensasie uit die tragiese situasie gelok word nie.






