NOORD-KAAP. – Die polisie het nuttige wenke gedeel om kinders gedurende die feesseisoen en elke dag daarna veilig te hou.
Kol. Cherelle Ehlers sê misdade wat teen kinders gepleeg word, bly ‘n bekommernis en voorsorgmaatreëls moet geneem word om hulle veiligheid te verseker.
Kinders moet hulle ouers se volle name, adresse en selfoonnommers ken. Ouers moet ten alle tye weet waar en by wie hullle kinders is, wanneer hulle tuis sal wees en watter roete gebruik sal word.
Kinders moet van die gevaar van vreemdelinge geleer word. Hulle moenie ‘n huis se deur vir ‘n vreemdeling oopmaak, by ‘n vreemdeling in ‘n voertuig klim of selfs ‘n geskenk of eetgoed van ‘n vreemdeling aanvaar nie. Kinders moenie hulle name of adresse met vreemdelinge deel nie. Indien kinders alleen by die huis is, moet vensters en deure veilig toe en gesluit wees. ‘n Kind moet nooit by ‘n deur of oor ‘n telefoon sê hulle is alleen by die huis nie.
Ouers moenie kinders sonder toesig in openbare plekke, of in voertuie los nie.
Kinders moet leer hulle liggame is privaat en hulle het die reg om “nee” te sê. Ouers moet let op kinders se gedragsverandering, veral wanneer hulle sê hulle wil nie saam met ‘n sekere persoon of op ‘n sekere plek wees nie.
Kinders moet weet hulle kan enigiets aan hulle ouers, ‘n betroubare volwassene of die polisie vertel, veral as hulle bang, ongemaklik of hartseer is. Leer vir ‘n kind wat die verskil tussen ‘n goeie en slegte geheim is.
Daar is veiligheid in getalle. Kinders moet liefs nie alleen loop of speel nie, maar eerder in veilige groepe beweeg. Daar moet ‘n afstand tussen ‘n kind en ‘n vreemdeling wees en indien nodig, moet die kind in die teenoorgestelde rigting waarin ‘n vreemdelingvoertuig ry, hardloop. Wanneer ‘n kind in die moeilikheid is, moet “nee” geskree word. Die kind kan na veiligheid hardloop en aan ‘n volwassene vertel wat gebeur. Dit is reg vir kinders wat in die moeilikheid is om te skree en te baklei.
Die privaatheidinstelling op kinders se toestelle moet nagegaan word, beperking moet op skermtyd ingestel word en daar moet gekyk word met wie hulle aanlyn kommunikeer.
Kinders kan vir hulp die polisie by 08600 10111 bel of die MySAPS-toepassing gebuik.





