VRYSTAAT. – ‘n Verdagte in ‘n moordsaak sal vandag (Woensdag) in die Henneman-landdroshof voorkom nadat hy van Lesotho uitgelewer is. Hy is op 27 Junie in Lesotho aangekeer en deur Interpol oorhandig.
Sers. Sinah Mpakane sê die verdagte is na Henneman-polisie oorgeplaas om op aanklagte in die hof te verskyn. Die polisie is omstreeks 05:20 op 17 Augustus 2023 na ‘n woning in Phomolong ontbied waar Selina Agmed (31) in ‘n plas bloed in die kombuis aangetref is. Ten spyte van haar beserings het sy haar aanvaller as haar gewese kêrel van Lesotho geïdentifiseer.
Na bewering het die gewese kêrel die betrokke oggend aan die deur geklop en nadat ‘n argument ontstaan het, is Agmed in die lyf en kop gesteek. Die verdagte het van die toneel gevlug. Agmed het onderweg na die Bonani-hospitaal aan haar beserings gesterf.
Tydens die ondersoek van die misdaad is die verdagte in Lesotho opgespoor en na sy arrestasie deur Interpol in Lesotho aan Interpol in Suid-Afrika uitgelewer. Die uitleweringproses is deur maj.genl. Apaphia Modise, die adjunk- provinsiale kommissaris van misdaadopsporing behartig.






