1 000 kg dwelms, 41 000 selfone, 11 00 wapens in tronke afgevat

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

‘n Vraag wat in die parlement gevra is, het vir ‘n skokonthulling oor onwettige items in tronke gesorg. Beslag is gelê op onder meer sowat 1 000 kg dwelmmiddels, meer as 41 000 selfone, 11 000 wapens, meer as 250 liter alkohol en R200 000 in kontant.

Dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, het die skokkende syfers van die laaste jaar bekendgemaak en gesê dit het krisisvlakke bereik. Daar kan selfs meer as die genoemde aantal onwettige items in tronke wees. Selfs bewaardersuniforms is in gevangenes se besit gevind.

Kabelo Kgobisa-Ngcaba, die DA se adjunkwoordvoerder van korrektiewe dienste, sê in ‘n verklaring die minister moet die probleem aan die kabinet eskaleer sodat daar dringende ingryping kan plaasvind, aangesien die departement nie die probleem alleen kan aanpak nie. Dit laat die besef ontstaan dat tronke nie rehabilitasie bied vir diegene wat vir misdade gestraf word nie, maar eerder ‘n spilpunt vir onwettige aktiwiteite is. Geweldsmisdade soos die Lusikisiki-skietery word vanuit korrektiewe fasiliteite georkestreer.

Kgobisa-Ngcaba sê voorts die departement het gefaal om die situasie onder beheer te bring en effektiewe gevolge te implementeer. Gedurende die 2023/2024 finansiële jaar is slegs 267 kriminele klagtes teen beamptes en gevangenes gemaak, maar die huidige syfers dui aan daar kan meer beamptes by beweerde onwettighede betrokke wees.

Kyk hier na die volledige verslag.

Kgobisa-Ngcaba sê ‘n skrywe oor die verspreiding van onwettige smokkelitems wat verlede maand aan die minister gerig is en dadelik aksie vereis, is nog nie geantwoord nie.

“Dit is dus onduidelik of enige aksie aan die gang is om hierdie krisis in ons korrektiewe stelsel aan te spreek.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief