OOS-KAAP. – ‘n Meisie (12) is Sondagmiddag uit die strandmeer by Morganbaai gehaal, waarna sy met KPR gered is. Sy het omstreeks 13:45 onder die water verdwyn terwyl sy geswem het.
Volgens die NSRI het vriende na die Groot Kei- munisipale lewensredders wat aan diens was, gehardloop, om hulp te verkry. ‘n Ooggetuie, ‘n voormalige NSRI-lewensredder, is saam met die ander lewensredders die water in om na die meisie te soek.
Sy is gekry en uit die water gehaal, waarna KPR met behulp van toerusting van Morganbaai-belastingbetalingsvereniging en NSRI toegepas is. Verskeie ander rolspelers het met die redding bystand gebied. Die meisie het met KPR spontaan begin asemhaal.
Sy is in ‘n ernstige toestand met ‘n Alderson-ambulans vir verdere behandeling na ‘n hospitaal geneem. By die hospitaal is sy suksesvol behandel vir simptome van nie-noodlottige-verdrinking en is aan’t herstel.





