GAUTENG. – Donell Mbele (23), die seun van aktrise Sonia Mbele (Ntombi Khumalo van Generations), het vir twee aanklagte van verkragting van sy meisie (17) in die Randburg-landdroshof verskyn.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê Mbele se meisie beweer hy het haar op 14 en 15 Desember 2024 by sy huis in Morningside verkrag, waarna aanklagte by die Sandton-polisie aanhangig gemaak is. Volgens die meisie was hulle op 14 Desember op ‘n afspraak by Clear Water Mall waar hulle in ‘n restaurant drankies gedrink het. Die restaurant wou sluit en hulle het gesamentlik besluit om na ‘n ander plek te gaan. Mbele wou onderweg glo tuis stop om sy foon te herlaai. Volgens die klaagster het die beweerde insidente toe plaasgevind.
Mbele is op R1 000 borg vrygelaat. Die saak is vir verdere ondersoek tot 10 Februarie uitgestel.
Sonia Mbele is ‘n Suid-Afrikaanse aktrise, model, TV-vervaardiger en entrepreneur. Sy het die eerste Real Housewives-franchise na Afrika gebring. Sy is ook die uitvoerende vervaardiger vir Real Housewives van Johannesburg.





