GAUTENG. – ‘n Verdagte wat glo daarvan beskuldig word dat hy by ‘n huis ingebreek het, is Dinsdagoggend beseer toe hy deur ‘n woedende groep mense aangerand is.
Zweli Dlamini van Ekurhuleni-metropolisiedepartement (EMPD) sê beamptes van die eerste reaksie-eenheid was besig met die uitvoering van verordeningstoepassing, toe hulle ‘n groep mense vinnig uitmekaar sien gaan. ‘n Man wat erg beseer is en beweerde gesteelde items is agtergelaat. Tydens ondervraging is vasgestel die man is gevang toe hy na bewering by ‘n huis ingebreek het en is deur die gemeenskap bygedam. Twee speelgoedpistole en ‘n polisiereënjas is in sy besit gevind.
Die verdagte is eers na Putfontein-polisiestasie geneem, waarna hy vir mediese hulp onder polisiebewaking geneem is.
EMPD versoek die gemeenskap om nie die wet in eie hande te neem nie en misdaad aan owerhede aan te meld.







