OOS-KAAP. – ‘n Voertuig deur ‘n verpleër bestuur, het Dinsdagoggend, omstreeks 07:00, pasiënte wat buite die Empilweni Gompo-kliniek gesit en wag het, raakgery en 11 beseer, van wie drie ernstig.
Die Buffalo City Metro Munisipaliteit (BCMM) sê die dagpasiënte het binne die perseel, buite die hoofgebou, hulle beurt vir ‘n mediese ondersoek afgewag, toe die insident gebeur het. Twee van die pasiënte wat ernstig beseer is, is na Frere-hospitaal oorgeplaas. Die ander pasiëmte is by Empilweni behandel, van wie diegene wat nie ernstig beseer is nie, gister reeds ontslaan is.
Die ongeluk is vir ondersoek by die polisie gerapporteer.
BCMM se politieke leiers en beamptes het die toneel besoek. Rdl. Princess Faku, die uitvoerende burgemeester, het die beseerdes namens die Troika, die raad van BCMM, ‘n spoedige herstel toegewens. Daar is ook met die bestuur van die hospitaal vergader om seker te maak ‘n soortgelyke insident gebeur nie weer nie.





