KWAZULU-NATAL. – ‘n Bendeleier (22) van die Inanda West-bende en sy makker (27) is Donderdagmiddag tydens ‘n oor-en-weer-skietery met die polisie in Cottonlands in Verulam dood.
Kol. Robert Netshiunda sê inligting is oor die berugte bendeleier, wat as vreesaanjaend beskryf is, en sy twee makkers ontvang, waarna ‘n operasie geloods is. ‘n Arrestasielasbrief vir moord was teen die bendeleier uitstaande. Hy is aan 20 sake van onder meer beweerde poging tot moord, roof, intimidasie en brandstigting gekoppel en het glo meer as 10 persone vermoor.
Na bewering het die drie na Umhlanga gery om dwelms en ammunisie te kry. Met die terugkeer vanaf Umhlanga is voertuie geruil, maar hulle is deur polisielede opgemerk wat hulle agtervolg het. Die polisie het hulle genader toe hulle in Vincent Dickinsonstraat parkeer het. Die verdagtes het op die polisie geskiet en die polisie het teruggeskiet, waartydens twee van die verdagtes doodgeskiet is. ‘n Vuurwapen is in die besit van die oorlede bendeleier gekry.
Die verdagte voertuig moet nog deursoek word. Daar word ook na die derde verdagte gesoek.







