WES-KAAP. – Wayne Lawrence is lewenslank direkte tronkstraf opgelê vir die moord op Angela Marinus, sy voormalige meisie, en poging tot moord op hulle dogter, Monique Marinus (16 ten tyde van die misdaad), op 11 Desember 2017.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die Kaapstad-hooggeregshof het Lawrence drie jaar vir aanranding, twee maal rig van ‘n vuurwapen 10 jaar, die roekelose bedreiging van ‘n persoon of eiendom vyf jaar, twee maal die oortreding van ‘n tussentydse beskermingsbevel 10 jaar, poging tot moord 15 jaar, moord lewenslank en regsverydeling drie jaar direkte tronkstraf gevonnis. Al die vonnisse word gelyktydig uitgedien, wat beteken Lawrence sal lewenslank in die tronk deurbring.
Volgens getuienis van 16 persone, gelei deur die senior staatsadvokaat, Evadne Kortje, was Angela en Lawrence van 2009 tot Okotber 2017 in ‘n verhouding wat deur verbale en fisiese mishandeling gekenmerk is. Op 19 Oktober 2017 het Angela ‘n tussentydse beskermingsbevel vir haar en Monique se veiligheid bekom. Hulle het ook in dié tyd uit die gesamentlike woning na haar ouers getrek.
Angela het haar verhouding met Lawrence verbreek en was in ‘n nuwe verhouding met ‘n kollega betrokke. Op 28 November 2017 was Lawrence en Angela weer vir die beskermingsbevel (terugkeerdatum) in die Bishop Lavis-landdroshof. Lawrence het herhaaldelik die beskermingsbevel oortree.
Die staat het aan die hof gesê Lawrence, wat op daardie tydstip twee vuurwapens besit het en ook deel van ‘n skietklub was, kon nie aanvaar Angela het die verhouding verbreek en was in ‘n nuwe verhouding nie. Lawrence het Angela gesmeek om na hom terug te keer en dit het tot teistering, fisiese en verbale mishandeling gelei.
Ntabazalila sê volgens Angela het Lawrence op 11 Oktober 2017 ‘n vuurwapen op Angela se nuwe kêrel gerig. Hy is die volgende dag na haar werk waar hy haar in sy voertuig gehou het en toe sy wou uitklim, met haar weggery het. In November 2017 het hy vir Monique gesê om vir Angela te bel en te sê hy gaan haar (Monique) en homself doodskiet indien Angela nie na hulle gesinshuis terugkeer nie. Om haar dit te laat glo, het hy twee skote in haar teenwoordigheid afgevuur.
Op 10 Desember 2017 was Angela op ‘n familie-uitstappie waar Lawrence ook teenwoordig was en weereens was hy aggressief teenoor haar en het ‘n vuurwapen op haar gerig.
Toe hy haar die volgende dag, 11 Desember 2017, bel, het sy die oproepe en boodskappe geïgnoreer. Die aand het sy en haar dogter by haar ouerhuis in die motor gesit toe Lawrence hulle nader en op hulle skiet. Angela is in die gesig en maag getref en het op die toneel gesterf. Monique is in haar voet getref. Lawrence het van die toneel gevlug, maar is op 13 Desember 2017 gearresteer. Daar is op ‘n Taurus-pistool beslag gelê en hy is gevra om sy tweede vuurwapen, ‘n Glock-pistool, te oorhandig, maar hy kon nie sê waar die vuurwapen is nie.
“Die hof het die staat se afgemete argumente, gerugsteun deur bewyse, aanvaar en die beskuldigde skuldig bevind. Dit het hom toe tot lewenslange tronkstraf gevonnis.”
Ntabazalila sê voorts adv. Nicolette Bell, die direkteur vir openbare vervolging in die provinsie, verwelkom die vonnis.





