GAUTENG. – Twee verdagtes, wat vermoedelik met blou ligte onder voorwendsel dat hulle polisielede is, motoriste op die N3-hoofweg tussen Villiers en die De Hoek-tolhek geterroriseer het, is Dindag tydens ‘n multidissiplinêre operasie vasgetrek. Een van die verdagtes het ‘n skietwond opgedoen.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê die SAPD se teen-intelligensie ondersoekeenheid en teen-bende-eenheid, Gauteng se taktiese reaksiespan en verkeerspolisie-lugvleuel, CAP gespesialiseerde operasies, Tracker Connect M&Z Werke Security, Midvaal Peace Officers, Delport Securitas, plaaslike gemeenskapslede en boere het met ‘n intelligensiegedrewe operasie reageer nadat ‘n wenk oor die verdagtes wat op die N3, naby Grootvlei, in aksie is, ontvang is.
Die verdagtes is op heterdaad betrap terwyl hulle ‘n Toyota Land Cruiser probeer kaap het. ‘n Skietery tussen die verdagtes en die polisie het tydens ‘n hoëspoedjaagtog uitgebreek, waartydens die een verdagte gewond is. Die ander een is sonder beserings gearresteer. Twee slagoffers wat in die Cruiser aangehou is, is ongedeerd gered. Daar is op twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, ‘n militêregraad-seinstoortoestel, SAPD-kentekens, uniform, blou ligte, sirenes, en vals registrasieplate beslag gelê.
Nevhuhulwi bevestig die verdagtes word aan meer as 30 kapings op die N3-hoofweg verbind en sal vandag op aanklagte in die Balfour-landdroshof verskyn.
Volgens ‘n verklaring van die departement van gemeenskapsveiligheid het die verdagtes na bewering ‘n Audi A4 met blou ligte en sirenes gebruik om niksvermoedende motoriste te stop, waarna hulle gekaap is.







