VRYSTAAT. – Bonginkosi Mokoena (25) is deur die Harrismith-hooggeregshof tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis vir die moord op Bophelo Moballane (2) gedurende Junie 2024.
AO Mmako Mophiring sê met ‘n ondersoek is bevind die kleuter is brutaal deur Mokoena aangerand nadat hy hom op 5 Junie 2024 vuilgemaak het. Die kind is met ‘n stok geslaan, met ‘n stewel geskop en in ‘n wasbak met koue water gesit. Mokoena en sy meisie (die ma van die kind) het gaan slaap en nie na die kind se welstand omgesien nie.
Hulle het die volgende dag opgemerk hy haal nie asem nie, waarna die ma, Mokoena en ‘n familielid met hom na ‘n plaaslike kliniek is. Mophiring sê die personeel van die kliniek was geskok toe hulle die kleuter ondersoek en het die polisie en nooddienste ontbied.
Die kleuter is dood verklaar en Mokoena is dieselfde dag gearresteer. Tydens vonnisoplegging is Mokoena ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en om met kinders te werk.





