Foto’s in berig.
GAUTENG. – Twee persone het gesterf en drie is beseer in ‘n ontploffing omstreeks 12:00 by Envirocycle in Rosslyn, in die Akasia-polisiëringsgebied in die noorde van Pretoria.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê aan Nuusflits twee persone is op die toneel dood verklaar. Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
‘n Betroubare bron sê aan Nuusflits dit is nog nie bekend wat ontplof het nie. Die toneel is deur forensiese deskundiges ondersoek. Die polisie se plaaslike kriminele rekordsentrum, forensiese deskundiges en die bomopruimingseenheid was op die toneel.
Lindsay Zwelithini Mnguni, woordvoerder vir Tshwane-nooddienste, sê die insident is omstreeks 12:00 aangemeld, waarna Rosslyn-brandweerdienste onmiddellik na die toneel in Toermalynstraat is. Met aankoms van die distriksbevelvoerder, ‘n intervensie-eenheid en brandbestryders op die toneel is nie ‘n brand aangetref nie, maar ‘n ontploffing in die herwinningsaanleg. Die SAPD, Tshwane-metropolisie en verskeie privaat- nood mediese dienste was reeds op die toneel. Twee Netcare911-helikopters is na die toneel ontbied.
Mnguni sê voorts vyf persone is deur die ontploffing geraak. Twee persone is noodlottig gewond en twee kritiek beseerdes is per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal gevlieg. Nog ‘n persoon wat erg beseer is, is op die toneel behandel en daarna na Netcare Akasia-hospitaal vervoer. Mnguni sê egter die oorsaak van die ontploffing moet nog vasgestel word.
Michael Gough van Pro Med Emergency Medical Services sê die ontploffing is glo deur “onontplofde ammunisie” (unexploded ordnance) veroorsaak wat per ongeluk by die aanleg beland het.
Volgens Envirocycle se webtuiste is die skrootmetaalhandelaars-maatskappy gedurende 2001 as ‘n herwinning-en-wegdoeningsmaatskappy begin. Dit het sedertdien tot een van die land se grootste handelaars wat in ysterhoudende metaal, nie-ysterhoudende metaal, glas en herwinbare produkte spesialiseer, gegroei.












