Rubriek deur Bert Mostert: Toe die Hemel Spreek

Lees ook :

’n Pragtige sonskyn-Saterdag in Namakwaland het tydens my middagslapie in ’n donderstorm ontaard. Toe ek wakker word, was ek effe verward – my brein kon nog nie mooi sin maak van die reën wat ek skielik hoor nie. Maar die harde klap van weerlig, saam met die katte wat paniekerig by die huis inhardloop, het my vinnig op hoogte van sake gebring!

Die volgende uur was rof, maar opwindend. Ek moes hardloop om al die vensters toe te maak en het amper my alie afgeval toe ek op die nat kombuisvloer gly – die voordeur moet mos altyd oop wees vir die katte! Die spektakel het verder ontwikkel toe die hael begin val, en net vir die kersie op die koek, gaan die dorp se krag ook sommer af.

Ek gaan sit toe gemaklik agteroor by my lessenaar wat oor die dorp uitkyk, en geniet die skouspel. Dis nogal skrikwekkend om die blitse te sien, gevolg deur ’n klap of harde gedreun, amper asof daar iets of iemand in die wolke is wat ontevrede is met jou. Ek dink toe aan wat ’n vriend van my, ’n reus van ’n man van ses voet sewe, onlangs in sy kamer oorgekom het. Die weerlig het teen die afleier wat teen sy kamermuur afloop, geslaan, maar die krag daarvan was só geweldig dat dit hom van sy stoel af geslinger het, teen die muur omtrent 4 meter weg!

Nou sit ek natuurlik met sulke gedagtes terwyl ek die storm uitwag. Toe dit uiteindelik bedaar en alles stil raak, sien ek iets besonders: die mooiste reënboog wat oor die berge strek. En ek maak nou nie ‘n grap nie, maar daar vlieg ewe ‘n duif ook daar verby. Ek ervaar toe so ’n diep vrede in my binneste, en dit voel of die Vader vir my sê:

“Dis okay, Ek sal nie weer die wêreld deur water vernietig nie. Ek hou by My verbond.”

Is dit nie merkwaardig om te dink dat God meer as 4 000 jaar gelede vir Noag die teken van die reënboog gegee het as bewys dat Hy Sy belofte sal hou nie? En ons sien dit tot vandag toe nog ná elke reën.

Dit herinner my aan ’n ander verbond wat Hy met ons gemaak het – die nuwe verbond, deur die bloed van Jesus. Die belofte wat daarmee saamgaan, is dat elkeen wat glo in die Naam van Sy Seun, Jesus Christus, die ewige lewe sal beërwe en nooit sal sterf nie

Wees geseënd, my vriend, en onthou: elke keer as jy ’n reënboog sien, is dit ’n herinnering dat God getrou is aan Sy beloftes – ’n waarmaker van Sy Woord!

“My boog gee Ek in die wolke; dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.”

— Genesis 9:13

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief