KWAZULU-NATAL. – ‘n Familiehond is vanoggend dood nadat sy Sondagaand by ‘n huis in Newlands-Oos, Durban, deur ‘n groen mamba gepik en sedertdien in ‘n kritieke toestand was.
Ensure Security sê Jason Arnold, ‘n professionele slangvanger, het Sondagaand omstreeks 21:00 dringende hulp van dié diens gevra nadat die familiehond en ‘n slang in ‘n skermutseling betrokke was, Kyle van Reenen, Ensure Security se algemene bestuurder en ook ‘n opgeleide paramedikus en ‘n geakkrediteerde honde-eenheid-paramedikus, het hom na die toneel gehaas.
Die hond, wat in ‘n kritieke toestand aangetref is, is met verskeie intervensiemetodes behandel, terwyl ‘n veearts telefonies gekonsulteer is. Arnold het intussen geld ingesamel om die hond se behandeling te dek. Kort na middernag is met die hond na Westville Veterinary Hospital gehaas om teengif te ontvang en sy is ook op ‘n meganiese ventilator geplaas.
Almal wat tot mediese hulp bygedra het, is na haar dood bedank.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





