GAUTENG. – ’n Botsing, waartydens ‘n bejaarde beseer is, het op Woensdag 16 April omstreeks 11:00 op die hoek van Charl Cilliersstraat en 8ste Laan in Boksburg-Noord, plaasgevind. Dit was na bewering tydens ’n hoëspoed-jaagtog deur die blitspatrollie en vermeende misdadigers.
Pascoe Investigations (Edms.) Bpk. doen ’n dringende beroep op die publiek vir enige bykomende ooggetuies of inligting wat hulle met ‘n ondersoek kan help. Tydens die jaagtog het die verdagtes se voertuig glo ‘n bejaarde vrou (77) se motor reg van voor getref. Albei lugsakke in haar voertuig het ontplooi, waartydens ses van haar ribbes gebreek is en sy is tans steeds in ‘n ernstige toestand in ‘n hospitaal.
Pascoe Investigations sê volgens inligting het polisielede op die toneel ‘n ambulansdiens ontbied, maar glo ook geweier om verantwoordelikheid vir die ongeluk te aanvaar. Die bejaarde se familie is aangeraai dat sy self ‘n saak moet oopmaak. Daar word verder beweer dat die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) nie op die voorval reageer het nie, ten spyte van die SAPD se bewering dat hulle in kennis gestel is.
Ooggetuies het bevestig dat die agtervolging naby Orama Roadhouse begin het. Die verdagte voertuig se lugsakke het blykbaar ook tydens impak ontplooi.
Nuusflits het SAPD en EMPD vir kommentaar gevra.
Enigiemand met meer inligting word gevra om www.pascoeinvestigations.com by 081 010 3888 / 072 694 7683 te bel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





