WAARSKUWING! Die foto in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.
GAUTENG. – ’n Verdagte het Dinsdagaand brandwonde opgedoen nadat hy glo onwettig toegang tot ‘n Stad Tshwane-substasie op die hoek van 12de Laan en Meyerstraat in Wonderboom-Suid verkry en skade aangerig het.
Proshield Security sê die verdagte het net na 23:00 beduidende skade wat op tussen R1 en R3 m. geskat word aan kritieke infrastruktuur aangerig. Tydens die insident het die verdagte ernstige derdegraadse brandwonde opgedoen. Hy is later op die hoek van Steve Biko- en Herzogstraat aangetref en is vir mediese behandeling onder begeleiding van die polisie na ’n hospitaal geneem.
As gevolg van die sabotasie en diefstal by die substasie was ’n groot deel van Wonderboom-Suid sonder elektrisiteit. Die publiek word versoek om enige verdagte aktiwiteit by kritieke infrastruktuur onmiddellik by die owerhede aan te meld.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





