GAUTENG. – Vier kinders, twee jaar oud en jonger, is Maandagoggend in ‘n brandende huis in Mayfair, Johannesburg, dood.
Robert Mulaudze, die woordvoerder vir die Stad Johannesburg se nooddienste, sê in ‘n verklaring berig van ‘n huis wat brand, is omstreeks 11:00 ontvang. Met brandbestryders se aankoms op die toneel was die huis in vlamme gehul. Nadat die brand geblus is, is op die kinders se liggame afgekom. Hulle is op die toneel dood verklaar. Die vermoede is dat hulle aan rookinaseming gesterf het. Die brand het glo by ‘n verwarmingstoestel ontstaan. ‘n Voorlopige ondersoek is op die toneel begin.
Nooddienste waarsku gebruikers om versigtig met verwarmingstoestelle om te gaan, veral in die lig van uiterse koue toestande wat vanaf Woensdag deur die SA-weerdienste voorspel is.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

