LIMPOPO EN GAUTENG. – ’n 24-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n vals Facebook-rekening gebruik het om ’n vrou onder valse voorwendsels te lok, haar te ontvoer en herhaaldelik te verkrag. Slagoffers van soortgelyke misdade word aangemoedig om na vore te kom.
Die woordvoerder van die SAPD, brig. Athlenda Mathe, sê die man neem glo vroue met valse beloftes van werksgeleenthede van Gauteng na Limpopo. Hy het glo onder die naam Jeff Rals op Facebook jong vroue mislei. Op 19 Mei het ’n waaksame lid van die publiek vinnig opgetree en die polisie in kennis gestel van sy vriendin wat onder valse voorwendsels gelok, ontvoer en verkrag is. Volgens hom het die slagoffer in die strik van die bedrieglike aanlyn-afspraak getrap toe die verdagte ’n vals Facebook-rekening gebruik het om haar te lok. Volgens die slagoffer het die ontvoerder die naam Jeff Rals op Facebook gebruik, met iemand anders se foto en identiteit. Hy het haar in Pretoria ontmoet en toe sy agterkom dat hy anders lyk as sy Facebook-profiel, het hy voorgegee dat hy ’n bestuurder is wat deur sy broer, Jeff Rals, gestuur is om haar op te tel. Hy het haar toe na Limpopo geneem en haar herhaaldelik by sy woning verkrag en finansieel afgepers, het sy gesê.
Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris van Limpopo, is na die vriend se rapportering gekontak en het onmiddellik ’n span gemobiliseer om na die slagoffer te soek. Binne vyf ure is die slagoffer en verdagte by ’n vulstasie in Giyani opgespoor, waar die verdagte sonder brandstof en platsak gestaan het. Die jong vrou is met haar familie herenig. Die verdagte is steeds in aanhouding en sal van verkragting en ontvoering aangekla word.
“Die SAPD waarsku gebruikers van aanlyn-afsprake om baie versigtig te wees en nie maklik te vertrou nie. Aanlyn-afspraakbedrog kan dikwels lei tot versoeke om die sogenaamde geliefde te ontmoet, wat in ontvoerings kan eindig. Hierdie swendelaars laat slagoffers glo dat hulle in ’n werklike verhouding is en wanneer vertroue gevestig is, versoek hulle dikwels geld of om die persoon te ontmoet, wat tot ontvoering kan lei, soos in hierdie geval,” het Hadebe gesê.


Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





