WES-KAAP. – ‘n Jong boggelrugwalvis, ook bekend as ‘n bultrugwalvis, van ongeveer 7 m lank, wat by die Robberg-natuurreservaat op die strand uitgespoel het, is Dinsdagoggend ondanks reddingspogings noodgedwonge van kant gemaak.
Craig Lambinon van die NSRI se kommunikasiedienste sê volgens Jaco Kruger, die Plettenbergbaai-stasiebevelvoerder, is berig Maandagmiddag omstreeks 14:40 gekry van die walvis wat besig was om te strand. Die diensspan en verskeie ander dienste is na The Wild Side van die natuurreservaat ontplooi.
Hulle het die walvis in vlak branders aangetref. Kruger sê die spanne het met die hulp van verbygangers en reddingsvaartuie pogings aangewend om die walvis met behulp van die stygende gety na dieper water te sleep. Volgens hom het die walvis egter aanhoudend teruggekeer na die strand en is later deur owerhede as nie meer lewensvatbaar beskou nie. Die walvis is Dinsdagoggend deur mariene owerhede met bystand van die SAPD menslik van kant gemaak. Mariene wetenskaplikes het monsters geheem vir ‘n nadoodse ondersoek.
Almal wat hulp verleen het, is vir hul pogings bedank.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





