OOS-KAAP. – Addisionele polisiebeamptes van verskeie gespesialiseerde eenhede is ná beweerde voorvalle van wraak op buitelandsers in Addo ontplooi. Drie mense is dood en minstens tien ander is beseer in die aanvalle wat Sondag en vandag (Maandag) plaasgevind het.
Ao. Majola Nkohli, ‘n polisiewoordvoerder, sê genl.maj. Thandiswa Kupiso, die waarnemende polisiekommissaris in die provinsie, het meer polisiebeamptes ontplooi. Volgens ‘n verslag het gemeenskapslede van die Valencia-gebied in Addo die strate ingevaar en na bewering buitelanders in die gebied aangeval. Daar word vermoed dat hierdie aanvalle gevolg het nadat ‘n plaaslike inwoner na bewering Saterdag buite ‘n taverne deur buitelanders vermoor is. Daarna het ander gemeenskapslede glo gemobiliseer en lukraak buitelanders in die gebied aangeval.
Die situasie is tans onder beheer. Die polisie handhaaf ‘n sterk teenwoordigheid in die gebied.
Nkohli sê die polisie ondersoek vier moordsake en 10 sake van poging tot moord. Inhegtenisnemings is op hande.
Kupiso het ‘n beroep op kalmte gedoen en gemeenskapsleiers aangemoedig om met gesprekvoering te help.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





