Liza Nel, sangeres in eie reg, is terug met wat as haar mees persoonlike liedjie nóg beskryf word. Die sangeres wat met alombekende Ricus Nel getroud is het Eers My Bok, toe Rooi en nou Moes Maar Ek Moenie vrygestel.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê dié liedjie is ‘n spanpoging, geskryf deur Liza self, Bella Coleske, Georic Lomas en Marco van Deventer: “”Dit is ’n kreatiewe kombinasie wat ’n musiekstuk geskep het wat nie net melodieus betower nie, maar ook diep emosioneel raak,” voeg hy by.
Soortgelyk as aan die styl van The Lumineers, ‘n Country-liedjie met ‘n folky gevoel, sê Liza: “Dit was vir my die grootste voorreg. Elke mens was al op een of ander manier seer gemaak deur die liefde… Tot jy op ’n dag iemand ontmoet wat jou weer leer om lief te hê. Ek wil hê mense moet weet dat almal liefde verdien. Die liedjie is ’n stuk van my hart wat ek met almal wil deel.”
Fanie sê die lirieke getuig van seer, weerloosheid en uiteindelik, genesing: “Dis ’n liedjie wat spreek van ’n mens se vrees om weer lief te hê ná hartseer, maar ook van die transformerende krag van onvoorwaardelike liefde. Hierdie storie is nie net fiksie nie – dit is haar eie. Liza, wat getroud is met die gewilde sanger Ricus Nel, deel dat die liedjie geïnspireer is deur haar eie pad in die liefde.”
“Ek hoop mense sal kan vereenselwig met die liedjie en dat dit met hulle harte sal praat,” sê Liza. Die blonde sangeres glo dat die geheim van sukses in egtheid lê. Sy dink mense voel dit aan as ’n kunstenaar eerlik is – en ook as die teenoorgestelde waar is.
‘n Musiekvideo van Moes Maar Ek Moenie is deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETC Creative verfilm.
“Ek was só dankbaar vir elkeen wat betrokke was. Dit was rêrig ongelooflik!,” skryf Liza en voeg by dat die verfilming een van die lekkerste ervarings van haar loopbaan was.
Wat het haar op haar troudag laas so mooi laat voel, buiten die asemrowende veld met ‘n dramatiese sonsondergang wat Liza aan die televisiereeks Yellowtone laat dink? “’n Spesiale skepping deur Reandi Grey van GreyC Creations,” antwoord sy. Liza is vol lof en dankbaarheid teenoor elkeen wat deel was van hierdie reis – van die uitrusting wat spesiaal gemaak is (kleur- en stylontleding deur Jeanne Pistorius van Kleurvol insluit), tot haar hare en grimering deur Suna Robberts, tot die agter-die-skerms werk van Marco van Deventer, die foto’s deur Hendri Viljoen en die leiding van Georic Lomas op stel.
“Met Moes Maar Ek Moenie wys Liza Nel nie net haar groei as kunstenaar nie, maar ook haar vermoë om haar hart met haar musiek te deel,” meen Fanie. Dit is ’n liedjie wat waarskynlik diep gaan resoneer met luisteraars – en dalk selfs hoop gee aan dié wat bang is om weer lief te hê. Vir Liza is hierdie liedjie meer as net nog ’n enkelsnit – dit is ’n liefdesbrief aan elkeen wat al seer gekry het, maar steeds glo in die krag van liefde. Vir Liza was dit asof die Here persoonlik die toneel afgerond het.”
Kry Moes Maar Ek Moenie hier op alle stromingsdienste. Liza Nel kan op sosiale media platforms gevolg word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





