KYK: Die woord ‘migrant’ lei tot geweldadige verwydering van CAPEXIT-leier

Lees ook :

KAAPSTAD. – Die Kaapse Stadsraad het Woensdag in chaos ontaard toe Jack Miller, leier van die Cape Independence Party (CAPEXIT), met geweld uit die raadsaal verwyder is nadat hy geweier het om om verskoning te vra vir die gebruik van die woord “migrant” in ’n debat oor die stad se nuwe begroting.

Kyk hier hoe Miller verwyder is:

In ’n video wat nou wyd op sosiale media versprei word, kan gesien word hoe sewe veiligheidsbeamptes Miller uit die raadsaal verwyder, ondanks sy pleidooi om self die vertrek te verlaat. Die voorval het plaasgevind nadat hy kritiek uitgespreek het oor behuisingstoewysings wat, volgens hom, plaaslike Kaapse bruin gemeenskappe weens migrasie vanuit die Oos-Kaap benadeel.

Jeanne Martins, woordvoerder, sê Miller het die term “ekonomiese migrante” gebruik — ’n woord wat hy as feit-gebaseerd en korrek beskryf het. Dit het egter onmiddellike ontsteltenis onder raadslede van die DA, die ANC en die EFF veroorsaak. Die speaker, Felicity Purchase, het geëis dat hy om verskoning vra. Toe hy geweier het om dit te doen, is sekuriteit is ontbied.

CAPEXIT en ondersteuners is glo woedend wat hulle as duidelike dubbele standaarde beskryf – in dieselfde raadsitting is drie EFF-raadslede toegelaat om aan te bly, ondanks aanhoudende ontwrigting tydens ’n aanbieding oor “100 jaar van Afrikaans”. “Die speaker het EFF-toyitoyi toegelaat, maar het Miller laat verwydert oor ’n woord wat in die Engelse woordeboek staan,” het een X-gebruiker geskryf.

Die organisasie beplan om regsaksie te neem oor crimen injuria en aanranding. “Die selektiewe toepassing van reëls en die fisieke verwydering van ’n raadslid vir die uitspreek van gemeenskapsbekommernisse is nie net ondemokraties nie — dit is gevaarlik,” sê Martins.

Terwyl Miller uit die raadsaal vir die gebruik van die term “migrant” verwyder is, bly Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters (EFF), die omstrede lied “Kill the Boer, kill the farmer” tydens politieke byeenkomste sing. Hierdie lied, wat sy oorsprong in die anti-apartheidstryd het, is deur verskeie howe, insluitend die Konstitusionele Hof, as nie-haatspraak beskou, met die argument dat dit deel is van die historiese bevrydingstryd en nie letterlik opgeneem moet word nie.

Die voortdurende gebruik van hierdie lied het egter kritiek van verskeie sektore van die samelewing ontlok, insluitend opposisiepartye en burgerregte-organisasies, wat aanvoer dat dit verdeeldheid saai en dat dit geweld kan aanhits.

Hier is die Miller se toespraak:

Nuusflits het amptelike navrae aan die Stad Kaapstad gerig oor die voorval, insluitend vrae oor die rede vir die verwydering van raadslid Miller, die konsekwentheid van optrede teenoor raadslede en hoe vryheid van spraak in raadsittings gehandhaaf word.

Intussen bly die video’s aanlyn versprei, en die voorval is besig om ’n brandpunt in die Wes-Kaapse politiek te word — met groter vrae oor vryheid van spraak, magsmisbruik en wie toegelaat word om hul sê te sê in Suid-Afrika se demokratiese ruimtes.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief