“Dit wat gebeur op ‘n jagtrip, bly op ‘n jagtrip,” is die siening van Ricus Nel, Ruhan du Toit, Chris Steyn, Bok van Blerk en Jay. Van die land se mees gewildste manlike kunstenaars het so pas ‘n splinternuwe enkelsnit, genaamd Jagtrip vrygestel.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê in ‘n verklaring die energieke liedjie is deur Georic Lomas en Marco van Deventer uit ondervinding op hul eie jag-uitstappie geskryf. Die samewerking tussen die vyf kunstenaars bring hope persoonlikheid, humor en kameraadskap na die liedjie. Elk van hulle bring sy eie “jag-gewoontes” saam.
“Ons was saam met ’n klomp manne in die bos. Ons kon nie regtig jag nie, maar ons het definitief die gees gebring,” lag Marco. “Daar is altyd daai ouens wat jag vir die trofees… en dan is daar ons – wat jag vir die gees,” voeg Georic by.
“Wanneer ek bos toe gaan, pak ek altyd my .300 WinMag, my jagpakkie, hoed en vellies, my fles, mes, flits, patrone – en natuurlik skoon onderbroeke! Onthou om jou werk en alles wat jou pla by die huis te los en die bos te geniet,” laat Jay met ‘n knipoog hoor.
“Ek pak gewoonlik my kettie, ’n knipmes en onderbroeke… en ek maak seker mamma het blomme en dat die kredietkaart se limiet laag is voor ek gaan jag,” lag Bok van Blerk met dieselfde tong-in-die-kies humor.
Jagtrip is ’n liedjie vir die manne (en vroue!) wat hou van ’n bietjie bosveld-gees – of jy nou regtig op ’n jagtrip is, of net wens jy kon gaan. Met ’n pakkende melodie, skerp lirieke en die unieke stemme van vyf van die land se gunsteling sangers, beloof dié snit om die klankbaan van jou volgende jag-avontuur te wees. Dis tyd om die werk agter te laat, die flessie te vat, en die volume oop te draai – want hierdie “Jagtrip” gaan loop soos stroop!, sluit Nel af.
Jagtrip is op alle stromingsdienste hier beskikbaar.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]




