OOS-KAAP. – Mauritz Andries Rheeder (57) het gister op ‘n aanklag van moord in die hof verskyn. Dit volg nadat Riana Nel (51) Vrydag, 6 Junie, kort voor 14:00 in ‘n privaathospitaal, in Mthatha, gesterf het.
Kapt. Wellie Matyolo, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig Nel is omstreeks 13:55 dood. Sy is Sondag, 1 Junie, in die hospitaal met ernstige beserings opgeneem. “Die verdagte het haar hospitaal toe gebring. Hy het beweer sy is deur boewe naby sy werksplek aangeval.”
Matyolo sê Rheeder het Nel Vrydag in die hospitaal besoek en vir haar verversings gebring. Sy het kort daarna siek geword en gesterf.
Matyolo sê die verdagte is in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het Nel ernstig beseer is tydens ‘n insident op Saterdag, 31 Mei. “Daar word beweer die oorledene het beserings opgedoen tydens ‘n geslagsgebaseerde aanval op haar.”
Nel, wat van Oos-Londen afkomstig is, het glo vir Rheeder by ‘n motorhandelaar waar hy werk in Mthatha besoek. Hy het haar volgens Matyolo glo tydens ‘n rusie in die werksplek aangerand. Hy het haar glo eers die volgende dag hospitaal toe geneem. Matyolo het bevestig, nadat Nel gesterf het, het ‘n voorlopige ondersoek wat elektroniese bewyse insluit, omstreeks 19:00 Vrydag tot Rheeder se inhegtenisneming gelei.
Matyolo sê ‘n nadoodse ondersoek sal die presiese oorsaak van Nel se dood bepaal.
Volgens Nel se Facebook-profiel is sy ‘n voormalige speurderkaptein van Brixton moord en roof en was sy ook by Bishop Lavis-opleidingskollege werksaam.
Die saak teen Rheeder is tot 17 Junie vir ‘n formele borgtogaansoek uitgestel. Hy bly in aanhouding.
Rheeder het op 2 Junie ‘n brief oor sy hartseer van Nel se beweerde aanval op Facebook geskryf:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





