KYK: Ma sê God van Israel hou haar en dogter veilig in Israel

Lees ook :

Foto's: Michele Potgieter Facebook

Michele Potgieter en Mari-Alena (23), ‘n ma en dogter, albei van Suid-Afrika en die Oekraïne, is tans in Tel Aviv, Israel, waar Mari-Alena behandeling vir kanker ondergaan. Nie net het hulle ervaring met die aanvalle tussen die Oekraïne en Rusland nie, maar is nou ook deel van die gebeure in Israel waar die geluide van sirenes, vlieënde missiele en ontploffings hulle daaglikse gang bepaal. Mari-Elena het eers behandeling vir Burkitt-limfoom in Kaapstad ondergaan en is toe na Tel Aviv vir spesifieke behandeling.

Vanoggend (Maandag) moes hulle in die bunker van die hospitaal skuil, waarna Michele op sosiale media gedeel het hulle is veilig terug in die saal. Michele het Vrydag in ‘n video aan Nuusflits vertel hoe dit met hulle gaan. Volgens haar, wat met die afsterwe van Ockert, haar man, in die Covid-tyd in George nie met die lewe wou voortgaan nie, is dit die God van Israel wat hulle veilig hou. Mari-Alena kry ook daagliks goeie nuus van hoe die behandeling die kankerselle laat krimp.

‘n Week gelede is daar nog om Mari-Alena se lewe geveg en alhoewel daar benoude oomblikke oor newe-effekte van haar CAR-T-selterapie-kankerbehandeling was, is daar nou beterskap. Dokters het selfs tydens die geveg vir haar lewe gewaarsku sy kon in ‘n koma verval en daar moes vir die ergste voorberei word, maar dit het nie Michele se geloof en aanhoudende gebede gekeer nie.

Op 13 Junie maak Michele die volgende plasing op sosiale media: “Dringend! Gebedsversoek. Mari-Alena en ek is in Tel Aviv in die hospitaal waar Mari-Alena haar CAR-T-selterapie vir kanker ontvang. Ons het pas die ontploffings buite gehoor. Ek weet die Here hou ons in Sy hande en onder Sy vlerke. Ons hou vas aan Psalm 91. Ons is nie ontruim nie, want Mari-Alena is baie swak en broos; sy is aan monitors gekoppel. Baie dankie vir julle gebede. Dit is nie die eerste oorlog waarin ons is nie. Al wat ek weet, is dat die Here getrou en goed is. Dit gaan goed met my siel. In Hom is daar geen vrees nie. Ons leer om Hom al hoe meer te vertrou.”

‘n Go-Fund-Me skarebefondsingsblad gestig om Mari-Elena by te staan.

Mari-Alena het laat verlede jaar met erge maagpyn gesukkel. Ná maande van toetse, skanderings en biopsies, is Burkitt-limfoom, een van die vinnig-groeiendste en gevaarlikste bloedsiektes by haar gediagnoseer. Die kanker het nie op behandeling in Suid-Afrika gereageer nie, waarna sy op 17 Mei saam met haar ma na Israel is om die gevorderde, eksperimentele behandeling in die Sheba Mediese Sentrum aan te pak.

Michele het in 2022 hulle unieke en spesiale lewensverhaal van hoe hulle as suksesvolle ouers hulle gesin opgepak en na Oekraïne verhuis het, om die Here se werk te doen, met Nuusflits gedeel. Lees die volledige storie oor geloof, waagmoed, pyn, vreugde en liefde hier onder. Michele is ook die trotse skrywer van Sonneblomme en Sneeu in Oekraïne.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief