VRYSTAAT. – André Meyer (29) is Vrydag deur die Bloemfonteinse streekhof ‘n opgeskorte vonnis opgelê in verband met ‘n voorval op 29 Februarie 2024 waarby twee minderjarige seuns by ‘n skool in Bloemfontein betrokke was. Meyer het ongemerk ‘n foto van een van die 12-jarige seuns geneem terwyl hulle ‘n badkamer gebruik het.
Kapt. Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits was daar ‘n skoolsportbyeenkoms op die betrokke dag. Twee 12-jarige seuns is die toilet in nadat ’n volwasse man die deur vir hulle oopgesluit het. Die man het ongemerk ’n foto van een van die seuns geneem terwyl hy homself verlig het. Die tweede seun het dit gesien en onmiddellik sy vriend gewaarsku. Toe die man gekonfronteer is, het hy aangevoer dit was ’n grap, die foto in hul teenwoordigheid uitgevee en die badkamer verlaat.
Die slagoffer het vir sy ma, wat ook die byeenkoms bygewoon het, van die voorval vertel. Die verdagte is later deur die seuns uitgeken as ’n kontraksjef wat in die skool se koshuiskombuis gewerk het. ’n Saak van crimen injuria is aanvanklik by die Parkweg-polisiekantoor geopen. As gevolg van die aard van die saak is die ondersoek aan kapt. Bez Bezuidenhout van die provinsiale SECI-eenheid (Vrystaatse Eenheid vir Serie- en Elektroniese Misdaadondersoeke) oorgedra. Na verdere ondersoek en om te verseker dat die erns van die oortreding reg hanteer word, is Artikel 24(b) van die Wet op Films en Publikasies bygevoeg, wat handel oor die misbruik van ’n kind in die skep van seksuele materiaal van kinders (CSAM).
Met die afsluiting van die hofverrigtinge het Meyer skuld beken en hy is tot drie jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar ingevolge Artikel 24(b) van die Wet op Films en Publikasies – skep van kinderpornografie – gevonnis. Sy naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word en hy is onbevoeg verklaar om met kinders te werk.
“Ons bevestig ons verbintenis tot die beskerming van kinders en om te verseker dat dié wat hulle wil benadeel, tot verantwoording geroep word, aangesien kinders verdien om veilig te wees by enige skool wat hulle bywoon,” sê lt.genl. Baile Motswenyane, die provinsiale poliksiekommissaris, wat die vinnige optrede van die slagoffer, sy vrien, die moeder en ondersoekspan geprys het.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





