Laataand by Rian: ‘Dit moes een of ander tyd eindig’ – Steven Kitshoff maak hart oop oor sy skok-uittrede

Lees ook :

Laataand by Rian: ‘Dit moes een of ander tyd eindig’ – Steven Kitshoff maak hart oop oor sy skok-uittrede fotokrediet: Verskaf

Die Springbokstut Steven Kitshoff was Dinsdagaand Rian van Heerden se gas op Laataand by Rian. Die 33-jarige Steven het vroeër vanjaar aangekondig dat hy sy stewels gaan ophang nadat ’n nekbesering in 2024 byna sy lewe gekos het. 

Lees ook: Kouefront lei tot verskeie weerwaarskuwings tot Vrydag in Oos-Kaap

Steven, wat 83 keer vir die Springbokke uitgedraf het en lid was van die groepe wat in 2019 en 2023 die Wêreldbeker gewen het, het vertel dat hy van kleintyd passievol oor rugby was. Later het van sy kindertydhelde – spelers soos Schalk Burger, Tendai “Beast” Mtawarira en Jean de Villiers – sy spanmaats geword. “Hierdie ouens is superstars op die veld en net sulke legends van die veld af,” het Steven gesê. 

Hy onthou die dag toe hy die eerste keer die Springboktrui oor sy kop getrek het – “jy wil alles gee wanneer jy die trui aantrek” – en ook die ritueel wat al van Dok Craven se dae kom waar spelers op hulle debuut deur die ander spelers ingelyf word. “Voor jy amptelik is, moet Bliksem bietjie byt,” het Steven gelag. (Bliksem was Dok Craven se geliefde hond.)

Die gesprek het om kritiek en sosiale media gedraai. Rian het gereken die ou met die pens wat op sy knieë hang, maak of hy meer van rugby as die spelers self weet. Steven Kitshoff het gesê sosiale media het nie ’n filter nie, en jy moet die goed en sleg vat, maar dat hy gelukkig was dat hy meer positiewe kommentaar gekry het. 

“Ek mis Saterdagoggende,” het Steven geantwoord toe Rian hom vra wat hy die meeste van rugby mis. Die wedstryd self was soms vir hom ’n waas, maar hy onthou wat voor en ná die tyd gebeur het. 

Vir hom was die dokter se uitspraak dat sy rugbyloopbaan verby was, emosioneel, omdat dit sy vrou, Aimee, laat huil het. “Dit was vir my tough om haar só te sien. Dit het gevoel of ek iets by haar weggeneem het,” het hy gesê. Maar ná ’n loopbaan van 14 jaar as professionele rugbyspeler, het Steven geweet die gordyn sou eendag sak. “Ek het geweet dit moes een of ander tyd eindig. Of dit twee of drie jaar vroeër is, maak nie ’n verskil aan die langtermynprentjie nie.”

Rian het Steven gekomplimenteer oor hoe hard hy gewerk het om die speler te word wat hy was. “Tyd en effort is die enigste ding wat jou guarantee dat jy ’n beter kans staan as die ander ou,” het Steven gesê en vertel wat Pieter-Steph du Toit hom geleer het: Hard work will always beat talent if talent doesn’t work hard enough

Hy sê hy is nie spyt oor enigiets in sy rugbyloopbaan nie. En hoe wil hy onthou word? “Ek wil gesien word as een van die bestes,” het hy gesê.

Die ander gas was Koben Hofmeyr wat in 2018 sy nek in ’n rugbywedstryd gebreek het toe hy op hoërskool was. Dokters het vir sy ouers gesê hy sal vir altyd verlam wees, maar met deursettingsvermoë en geloof kan hy vandag met krukke loop. Opgee was nie vir hom ’n opsie nie. Die ongeluk het dalk sommige deure toegemaak, maar dit het baie ander oopgemaak, het Koben gesê. “My ouers het te hard gewerk vir my om te gaan lê,” het hy bygevoeg.

Steven Kitshoff het ook gedeel wat sy pa vir hom gesê het toe hy die nuus breek dat sy loopbaan verby is: “It happens. Die Here het ’n ander plan vir jou.”

Rian se volgende gas is die sanger Appel. 

Die volledige episode is op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

*Persverklaring

Lees ook: Kouefront lei tot verskeie weerwaarskuwings tot Vrydag in Oos-Kaap

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief