JEMEN. – Tien bemanningslede is gered, drie is dood en nog meer is vermis nadat ‘n Hoethi-groep ’n skip in die Rooi See aangeval en gesink het.
Die Hoethi’s het Maandag en Dinsdag ’n Griekse skip, Eternity C, met 25 bemanningslede aangeval. Volgens die Hoethi’s het hulle die skip geteiken omdat dit op pad was Israel toe. Hulle het gesê hulle het ’n onbekende aantal van die bemanningslede na ’n “veilige plek” geneem.
Die VSA-ambassade in Jemen het gesê die Hoethi’s het “baie van die oorlewende bemanningslede ontvoer” en geëis hulle moet dadelik vrygelaat word.
Volgens veiligheidsmaatskappye het die groep ses van die bemanningslede, asook drie wagte, ontvoer. Die aantal ontvoerdes is nie bevestig nie.
Bronne: BBC, The Independent, CNN





