Voormalige hekwag vorder tot bevelvoerder van openbare orde-polisiëringseenheid

Lees ook :

Foto's: SAPD

LIMPOPO. – Kol. Sekitikele Freddy Modungwana is tans die provinsiale eenheidsbevelvoerder van die openbare orde-polisiëring en taktiese reaksiespan in Polokwane nadat hy gedurende 1991 as ‘n reservis-konstabel hekwagdienste by Apel-polisiekantoor verrig het.

Brig. Hlulani Mashaba, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring Modungwana word vandag as ’n baanbreker in gespesialiseerde polisiewerk beskou. Toe Suid-Afrika in die vroeë 1990’s in politieke onstuimigheid verkeer het, was Modungwana nie ’n toeskouer nie; hy was op die voorgrond. As jong konstabel is hy na van KwaZulu-Natal se mees gewelddadige brandpunte, waaronder Umlazi, Richmond, Port Shepstone en Ndwedwe, ontplooi.

Gedurende 1999 was hy onder die eerste lede van die destydse taktiese intervensiegroep (TIG), gestig deur lede van Limpopo en Noordwes se POP-eenhede. Die TIG is later na die Wes-Kaap ontplooi om die geweld van Pagad en bende-aktiwiteite in gebiede soos Mitchells Plain, Athlone en Manenberg hok te slaan. In slegs drie maande is verskeie sleutelverdagtes in hegtenis geneem, waaronder Rasshid Staggie van die Hard Livings-bende en het die eenheid merkwaardige sukses behaal. Die sukses van hierdie operasies het ’n landswye hervorming van taktiese polisiëring geïnspireer en die nasionale intervensie-eenheid is geskep.

Toe Limpopo egter nie ’n eie TRT ontvang nie, het kol. Modungwana in 2004 die Air Supported Tactical Team (ASTT) begin. Teen 2009 het dié span suksesvolle operasies in Polokwane en Elim uitgevoer en misdadigers gekeer om miljoene rande te buit. Sy kundigheid het internasionaal aandag getrek. In die aanloop tot die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi het hy saam met die Franse Gendarmerie gewerk om opleiding vir openbare orde-polisiëring te hervorm. As erkenning is hy deur Coca-Cola genooi om wedstryde in Port Elizabeth by te woon.

Modungwana het indrukwekkende kwalikasies wat taktiese polisiëring vlak 1 en 2, baanbeampte-opleiding, pelotonlidopleiding en lei die opleier op, pelotonbevelvoerderopleiding en lei die leier op, operasionele bevelvoerderopleiding en lei die opleier op, insluit. Gedurende 2009 is hy tot kaptein bevorder en het die posisie van ORS-opleidingskoördineerder beklee. In 2019 is hy tot luitenant-kolonel bevorder en het die posisie van TRT- provinsiale koördineerder ingeneem. Modungwana is in 2024 tot kolonel bevorder en beklee tans die pos as bevelvoerder.

In Oktober 2023 is hy aangewys as ’n Gemagtigde Lid ingevolge Artikel 15 van die Wet op Veiligheid by Sport- en Ontspanningsgeleenthede (Wet 2 van 2010), en het hy die veiligheidsbeplanning van die 13de Brics-byeenkomste in Mookgopong gelei. In Mei 2025 het hy die G20-voorbereidingsgeleenthede, aangebied deur verskeie regeringsdepartemente, suksesvol gekoördineer.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris, het Modungwana vir sy uitstaande taktiese leierskap en diens aan die land geprys: “Kol. Modungwana se nalatenskap is een van onwrikbare diens, vernuwende leierskap en ’n verbintenis tot veiligheid wat steeds ’n verskil maak in gemeenskappe regoor Suid-Afrika.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief