KWAZULU-NATAL. – Die polisie se spesiale taakspan vir politieke moorde het nog ‘n deurbraak in die ondersoek na die moord op Sindiso Magaqa gemaak. Die voormalige munisipale bestuurder (55) van die Umzimkhulu- plaaslike munisipaliteit is in hegtenis geneem.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die verdagte is weereens in Malvern, Durban, in hegtenis geneem. Hy is oorspronklik gedurende 2018 saam met die oorlede burgemeester van die Umzimkhulu- plaaslike munisipaliteit, ’n sakeman, twee voormalige polisielede en ’n huurmoordenaar, in hegtenis geneem. Sbusiso Ncengwa, die huurmoordenaar, is op 7 Julie tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Die voormalige munisipale bestuurder sal vandag op ‘n aanklag van moord in die Umzimkhulu-landdroshof voorkom.
“Ons bevestig die arrestasie van nog ’n verdagte in hierdie saak,” het brig. Mathe gesê.





