INTERNASIONAAL. – Rusland se Klyuchevskoy Sopka-vulkaan, een van die wêreld se hoogste aktiewe vulkane, het uitgebars ure ná die aardbewing van 8.8 op die Richterskaal voorgekom het en tsoenami-golwe in die Stille Oseaan veroorsaak het. Klyuchevskoy, sowat 450 km noord van Petropavlovsk-Kamchatsky, het al telkemale oor die afgelope paar jaar uitgebars.
Tsoenami-waarskuwings in Colombië, Equador en Peru is vanoggend gekanselleer. Die regering in Chile handhaaf die tsoenami-waarskuwing. Die minister van binnelandse sake, Alvaro Elizade, het gesê golwe het in sommige plekke ’n hoogte van 1.1 m bereik en in een gebied selfs ’n hoogte van 2.5 m.
Lees ook: Tsoenami-waarskuwings afgeskaal in sommige gebiede
Volgens Nieu-Seeland se noodbestuurowerhede is tsoenami-golwe nou besig om die kus te bereik en ’n waarskuwing sal tot vanmiddag geld. Tsoenami-waarskuwings in die VSA, Japan en Rusland is ook afgeskaal met owerhede wat sê die ergste is verby.
Verskeie mense is in die aardbewing beseer, maar geen erge beserings of groot skade is aangemeld nie. Een vrou in Japan is oorlede nadat haar voertuig van ’n krans afgestort het terwyl sy besig was om te ontruim.
Bronne: The Telegraph, The Times of India, The Independent
Lees ook: Tsoenami-waarskuwings afgeskaal in sommige gebiede





