WES-KAAP. – Die Kaapse Onafhanklikheidsparty (CAPEXIT) en rdl. Karl Bodin het die Stad Kaapstad skerp gekritiseer oor ‘n voortslepende rioolkrisis in Houtbaai, wat volgens hom die omgewing verwoes en openbare gesondheid bedreig.
Bodin het op 24 Julie die terrein besoek en gesien hoe rou riool uit ‘n mangat in die parkeerterrein by die Houtbaai-sportkompleks oorvloei. Bodin sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die riool het dae vantevore die basketbalbaan oorstroom en kinders moes glo tussen ontlasting en toiletpapier speel. “Dit is nie ’n eenmalige insident nie – dit is ’n krisis wat spruit uit jarelange nalatigheid,” het Bodin in die stadsraad verklaar.
Hy sê voorts die stad se rioolnetwerk is onder groot druk en dat die mariene-uitlaatpyp (MOP) onbehandelde riool in die see inpomp. Volgens hom blameer die stad die Imizamo Yethu-nedersetting, maar slegs die helfte van die besoedeling kom glo daarvandaan. Inwoners sonder sanitêre geriewe moet hul afval in stormwaterstelsels stort, wat die Disa-rivier besoedel.
’n Omgewingsverslag toon aan dat die stad se aanspraak dat die besoedeling slegs tot 500 meter beperk is, onwaar is. “Mossels wat 5 km ver gevind is, is besmet met farmaseutiese stowwe,” het prof. Leslie Petrik, bekende omgewingsnavorser, gesê. “Die stad is besig om ons marienelewe uit te wis.”
Bodin eis dat die stad die ou rioolpype vervang, die netwerk uitbrei, ’n rioolaanleg bou en toilette aan Imizamo Yethu voorsien. ’n Klagte is ingevolge die waterwet en die wet op nasionale omgewingsbestuur by die departement van water en sanitasie ingedien. “Hou op om ons oseane te vergiftig. Tree nou op, of hierdie raad se nalatenskap sal ’n giftige kuslyn wees,” waarsku Bodin.
Nuusflits het die Stad Kaapstad vir kommentaar gevra.

