OHIO, VSA. – Lindsey en Tim Pierce het ’n babaseuntjie verwelkom wat ontwikkel het uit ’n embrio wat glo vir die langste tydperk ooit voor geboorte gevries was.
Thaddeus Daniel Pierce is op 26 Julie 2025 gebore uit ’n embrio wat sedert Mei 1994 in kriogeniese (koueverwekkende) berging was – ’n rekord van 11 148 dae. Die embrio is oorspronklik deur Linda Archerd (62) geskenk, nadat dit deur in vitro-bevrugting (IVB) geskep is.
Die Pierces het die embrio ontvang deur die Nightlight Christian Adoptions se embrio-aannemingsprogram. Van die drie geskenkte embrio’s wat hulle gekry het, is een suksesvol ingeplant.
Volgens dr. John David Gordon van Rejoice Fertility is dit ’n nuwe wêreldrekord vir die langste tydperk wat ’n embrio gevries is voor ’n suksesvolle geboorte.
“Ons wou net ’n baba hê,” het Lindsey Pierce gesê. Archerd het gesê sy hoop om die gesin en baba eendag te ontmoet.
Bronne: The Tropixs, Western Standard, WSLS 10 en The Economic Times





