MPUMALANGA. – Motoriste word gevra om groot versigtigheid aan die dag te lê wanneer daar in mistige toestande bestuur word. Drie mense het Saterdagoggend gesterf toe sowat 20 voertuie op die N4/N12-skeiding in Emalahleni (voorheen Witbank) in ‘n ongeluk betrokke was.
Moeti Mmusie, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê in ‘n verklaring twee ligte afleweringsvoertuie, ses vragmotors en 12 motors was in die ongeluk betrokke. Die pad is daarna vir ure gesluit.
Jackie Macie, LUR vir die departement, sê hierdie mistige toestande kom hierdie tyd van die jaar en soms in die somer, veral ná reën, voor. Motoriste se wyse van bestuur moet by die heersende weerstoestande aangepas word. Hy het gesê van die roetes wat mis ervaar, is die N2, N3, N4, N11, N12, N17, R35, R568 en R544. Motoriste word verder aangeraai om hul hoofligte aan te skakel, ’n veilige volgafstand te handhaaf en spoed te verminder. Waar moontlik, behoort hulle ook te oorweeg om hul ritte uit te stel totdat weerstoestande verbeter.





