OOS-KAAP. – ‘n Seun (17) is in hegtenis geneem nadat ‘n leerling (16) Dinsdag omstreeks 08:00 op die skoolterrein van Hoërskool Nkwenkwezini in Dyamala, Alice, onder meer in die nek gesteek en beroof is.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê die seun wat in die nek gesteek is, is van sy selfoon en geld beroof en daarna in ‘n puttoilet gedruk, waar hy die nag vasgekeer deurgebring het. Hy is Woensdag deur ’n ander leerling ontdek en na die Victoria-hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang.
Die verdagte is Woensdag in hegtenis geneem en van poging tot moord en roof met ’n wapen anders as ’n vuurwapen aangekla. Hy het Donderdag in die Alice-landdroshof verskyn en is in aanhouding by die John X Meriman-jeugsentrum geplaas.
Die saak sal weer Maandag in die hof voorkom.
Maj.genl. Thandiswa Kupiso, provinsiale polisiekommissaris, het die gemeenskap en die skool vir hulle samewerking met speurders bedank. Dit het die inhegtenisneming verseker.





